Glen Coe Glen Coe Nasionale Natuurreservaat | |
---|---|
Land | Verenigde Koninkryk |
Provinsie | Skotland |
Naaste dorp | Glencoe |
|
|
Koördinate: 56°40′08″N 5°1′34″W / 56.66889°N 5.02611°W | |
Oppervlak | 56,3 km² |
Openingsjaar | 2017 |
Bestuursliggaam | National Trust for Scotland |
Glen Coe (Skots-Gaelies: Gleann Comhann, [klan̪ˠˈkʰo.ən̪ˠ]) is 'n vallei (glen) in die weste van die Skotse Hoogland met landskapsvorme wat deur vulkaanuitbarstings en gletsers gevorm is.[1] Dit is in die noorde van die graafskap Argyll naby die grens met die historiese provinsie Lochaber geleë. Vandag maak dit deel uit van die administratiewe distrik (council area) Highland. Die belangrikste nedersetting is Glencoe.
Die vallei was die bakermat van Skotse bergklimsport en is vandag ook gewild by stap- en wintersporttoeriste (die Glencoe Mountain-skisentrum is met skihysers toegerus). Histories word die vallei verbind met die sogenaamde Glencoe-slagting van 13 Februarie 1692 waartydens 38 manlike familielede van die Clan MacDonald of Glencoe in die nasleep van die Jakobiete-opstand deur regeringsmagte doodgemaak is. Tientalle ander, onder wie vroue en kinders, is aan blootstelling oorlede.